Friday, 22 June 2012

Brief 11 Augustus 2005 (Lesotho bike trip etc)

Liewe Almal,
Ek kan alweer nie onthou wanneer ek laas geskryf het nie - ek het nou die dag my emails skoongemaak en ek vermoed ek het my laaste brief delete - so verskoon maar as ek myself herhaal.

Soos julle almal nou seker al weet het Mike en Kie hulle "bike trip" vreeslik geniet!  Hulle het die Vrydag deurgery Bethlehem toe - al die grondpaadjies gery tot daar.  Hulle het by Nick's Pub geslaap - ons slaap altyd daar met die Mei maand warmlugbalonne kampioenskappe.  Dit is verskriklike nice mense en hulle het vir Mike-hulle plek gemaak in hulle kinders se woonstel teen 'n minimale prys.  Saterdagoggend is hulle deur Lesotho toe - ook op die grondpaaie.  Hulle het Saterdagaand by 'n kampplek aangekom waar hulle wou oornag - net om te hoor dat die mense nie toegelaat word om kampeerders daar toe te laat daardie tyd van die jaar nie.  Dit is te gevaarlik.  Die mense gaan dood van die koue!  Anyway.  Hulle besluit toe maar om verder en hoër die berge in te ry waar hulle toe by een of ander ski lodge uitgekom het.  Daar het hulle aan die kuier geraak by die bestuurder van die ski lodge wat hulle blykbaar naderhand gesmeek het om by hom in die lodge te bly - maar nee - hulle het reeds besluit dat hulle die aand in hulle tente gaan slaap.  Hulle het afterall nog nie 'n beurt gehad in die tente nie - en hulle het dan nou besluit om al die rowwe en onbeskofte dinge te doen.  Needless to say...  Al die goed wat hulle in vlesse en houers gehad het was vasgevries die volgende oggend.  Marinus se slaapsak het teen sy tent vasgevries - maar almal het klaarblyklik BAIE lekker geslaap en GLAD NIE koud gekry nie!  Weet nie hoeveel daarvan was te danke aan die "hollow fibre" slaapsakke, die "fleece bags", die "thermal underwear" ens ens nie.  Ek vermoed 'n groot deel van die lekker slaap was te danke aan die lodge bestuurder wat hulle probeer oorreed het om in die lodge te slaap, en die manier waarop hy hulle probeer oorreed het was om hulle half gepiets te maak sodat hulle nie kan dink nie.  :-)

Hulle het die volgende dag 200 of 300km in Lesotho in gery na die Katse dam toe waar hulle wou oornag.  Die paaie was so rof dat hulle 10 ure daaraan gery het en eers pikdonker nag daar aagekom het.  Een van die ouens - hoeka die Marinus met die vasvries slaapsak - het blykbaar omtrent 7 keer geval.  Hulle het maar naderhand die stukkies moterfiets opgetel en saamgery vir ingeval dit later gebruik kan word in die regmaakproses.  Dit was blykbaar BAIE rof.  Van so aard dat jy maar jou oë toehou en opry met die berg hopende dat jy nie 'n te groot rots sal tref nie; en bergaf sit jy maar en trap rem en trek rem en gaan gly-gly die bergaf.  Hulle is deur "honderde" strome en riviertjies.  Mike sê die beste val wat hy gesien het is toe hy oor die berg kom aan die ander kant af - hy sien vir Konrad - die volgende ooblik sien hy net 'n stofwolk en 'n mannietjie met 'n "helmit" wat bollemakiesie by die berg afrol.  Gelukkig het niemand regtig seergekry nie.  En gelukkig het niemand regtig ernstige motorfiets breke opgedoen nie.

Ek dink hulle het een aand by Katse Dam geslaap en toe die volgende dag deurgery na Port St Johns toe in die Transkei.  In 'n baie mooi "backpackers" lodge gebly met 'n ongelooflike uitsig.  Daar het hulle twee aande oorgeslaap en lekker rondgery langs die see.

Van daar af is hulle Bulver toe.  Dit is naby Bergville en Pietermaritzburg (dink ek).  Konrad-hulle het daar gaan paraglide vir die naweek.  Mike het sy eerste "tandem" vlug gehad wat blykbaar baie lekker was - maar nie lekker genoeg om dit weer te probeer nie.  Inelkgeval blykbaar nie nadat hy so onverwags met 'n R350 rekeninkie gesit het nadat almal gedink het hy kry die vlug verniet nie.  :-)  Hy het baie tyd spandeer by Ian en Karen - sy Pietermaritzburg buddies.  Ian bestuur 'n plaas in die omgewing.

Hulle die Maandag daar gery - oorgeslaap êrens in die Drakensberge en die Dinsdag teruggekom in Pretoria.  Marinus (weereens) se "clutch" kabel het blykbaar gebreek - maar Werner (wie se bynaam Camel-man is by the way) het dit reggemaak met "cable ties" en "spanners" wat hy aanmekaar wasgedraai het met "masking tape".  Die het gehou tot in Pretoria met net een of twee van die spanners wat langs die pad uitgeval het.  :-)  Die arme Marinus het dit omtrent gekry.  Hy het sy moterfiets eers omtrent drie weke voor die toer gekoop - kontant.  Met een van die oefensessies voor die tyd val hy toe so sleg met die moterfiets dat die in die werkswinkel was vir twee weke - en daarom het hy nou nie reeds baie tyd gehad om te oefen nie.  Na die Lesotho toer moes hy weer die moterfiets invat werkswinkel toe want daar was verskeie stukkies missing en heelparty skrape wat nie so goed gelyk het nie.  Hy het die fiets na 'n werkswinkel in Midrand geneem - BAIE ver van die eerste werkswinkel - want hy het blykbaar baie skaamgekry en kon nie dink dat dit enigsins goed is vir die ego om so twee keer na mekaar so vreeslike vernielde fiets in te neem nie.  Die mense mag dalk net begin dink hy kannie ry nie...  :-)  (Ek sê liewer niks - ek was nie daar om dit te beleef nie... :-))

Met ons en die kinders gaan dit baie goed.  Die kinders begin nou weer vir die eerste keer bietjie snuffelrig raak - seker maar die verandering van seisoen.  Ek het gister die homopaat gebel en Margaret begin vandag met die medisyne.  Hoop dit werk weer so goed soos altyd.  Kaylee het nogal 'n lelike kroephoesie aan haar...

Ons is weer besig om te begin regmaak vir Kaylee se verjaardag.  Sy word 6 hierdie jaar.  Ek kan dit nie glo nie!!!!  Ons kind gaan volgende jaar skooltoe!!!  Ons weet nogsteeds nie eintlik waarheen sy sal gaan nie.  Het nou aansoek gedoen by die Chinese Skool en by Irene Primary.  Gaan maar kyk waar ons regkom.  Ons val ongelukkig net-net uit Irene se voedingsarea en sal op 'n waglys moet gaan.  Mike het 'n briefie geskryf wat sê dat hy kantore in Centurion het - wat teoreties absoluut die waarheid is.

Kaylee gaan 'n Little Mermaid party hê.  Tannie Priscilla van langsaan gaan weer die koek bak.  Sy het Jadie se Nemo koek so mooi gemaak die laaste keer.  Ons gaan weer die partytjie by die huis hou - hierdie keer soek ek net gladnie die kinders binne in die huis nie!  Dit was laaskeer 'n redelike gemors!  :-)  Ons gaan vir hulle goue karton gee sodat hulle krone kan maak met groen en blou blinkertjies en gom.  Hulle kan Little Mermaid prentjies inkleur vir pryse - elkeen sal maar 'n prysie moet kry...  Ek gaan kraletjies soek wat hulle kan inryg om hangertjies en armbande te maak, en hulle kan staffies maak met die goue karton en stokkies wat hulle kan plak.  Margaret gaan vir my suikerkoekies bak in die vorm van seesterre wat Kaylee met klein ronde koelbolletjies kan versier.  Ek gaan bubbles kry wat hulle kan blaas - en dan natuurlik die ewige wenner - die Jumping Castle!!  :-)  Ek weet nie wat die arme seuntjies gaan doen nie - behalwe om die dogtertjies te irriteer - maar ek is seker hulle sal mekaar besig hou, en as niemand kyk nie sal hulle ook 'n paar van die goedjies doen.  Ons sal maar maak of hulle konings is met die krone, en hulle sal seker ook nie omgee om in te kleur nie.  Vandag se tyd is dit inelkgeval mode vir mans om hangertjies en armbande te dra - so ons sal hulle maar daarheen ook stuur.  :-)

Ek het die idee gekry van die internet af.  'n Vrou in Eureka, Californie (waarookal dit mag wees), het vir haar dogtertjie so partytjie gehou.  Ek het so min of meer al die "ingredients" al gaan kry - en dit kom my verbasend goedkoop uit!  Dit maak nogal 'n verskil as mens dit mooi beplan vir 'n verandering instede van om die dag voor die tyd gou iets bymekaar te maak!  My forte...

Ek is nogsteeds op 'n mission om gewig te verloor.  So gaan sien ek mos 'n tannie daar in Lynnwood wat bekend staan vir haar "herbal abilities".  So gee die tannie vir my 'n sakkie tee - wat Mike reken as die Narkotiese buro die huis binnekom as ek besig is om dit tee te maak dan neem hulle my onmiddellik weg.  :-)  So kry ek ook toe pienk kristalle wat genoem word "tummy tuck" kristalle en wat smaak kompleet soos vicks!!  Ek is die dood voor die oë gesweer om nie van die kristalle te drink nie - ek moet dit sif met 'n baie fyn siffie - wat sy toe ook sommer aan my gegee het.  So kry ek ook toe 'n resep wat die maag gereeld sal laat gaan wat bestaan uit pruime wat in water gelê het, 'n koppie brandewyn - as preserveermiddel, KLOMP gliserien en om alles te kroon een of ander sakkie goed wat BAIE verdag lyk, en BAIE erg proe.  So drink ek toe die tee deur die dag en eet in die aande 'n ou ietsie - maar kroek oor naweke van so aard dat al die goeie werk van die week heeltemal ten gronde gaan.  Anyway - ek is toe mos 23:00 die aand hospitaal toe so rukkie terug met 'n VREESLIKE pyn op my maag - wat toe uiteindelik gediagnoseer is as urienweg infeksie - wat ek tot vandag toe nog sê kon nie al gewees het nie, want net urienweginfeksie kan nie SO seer wees nie!  Ek het regtigwaar gevoel en gaan uitpass, en met die hiperventilasie van die pyn het ek toe naderhand "pins en needles" in my hande en voete, en my bors is seer - ek het selfs gedink ek kry dalk 'n hartaanval.  :-)  Nodeloos om te sê - na die trippie hospitaal toe is ek te vrek bang om die tee-tannie se goed weer te drink - so ek is nou maar weer terug op die ou manier van gesond eet en vergeet om wonderbaarlik 20 kilos in twee maande te verloor.  :-)  Sad but true!

Ma-hulle was nou vir twee aande gou by ons - oppad na 'n reunie in Harrismith.  Jadie begin darem nou so stadigaan met hulle speel en vir hulle smile.  Kaylee het haar oupa en ouma terdee geniet - soos altyd.  Ons sien hulle so bittermin!

Mike se ouers is met sy bakkie NoordKaap toe.  Dit is eintlik baie snaaks.  Mike moes sy registrasie papiere en 'n getekende brief van die stadsraad (wat die bakkie finansier) kry om te sê dat die bakkie vir twee weke uit die land mag wees.  Mike wil toe weet of hulle Botswana toe gaan - nee, sê Grandpa, hulle gaan net Noordkaap toe, maar met die mense daar in die Noordkaap weet mens nooit!  Wat sal nou gebeur as hulle gestop word met 'n bakkie wat nie aan hulle behoort nie...  :-)  Die twee ouerpare word vir my baie snaaks hoe ouer hulle word!

Ons het nou die naweek weer 'n PietMuis gaan kry ('n klein dwerg hamstertjie) en twee vissies - ek het gejeuk vir ietsie.  Mike wil piep kry - maar hy kan bly wees daar was nie voëltjies nie - want ek wou nog 'n voëltjie ook gekry het. :-)  Jade wil haar doodlag vir die muis - en Kaylee is heel gemaklik om hom vas te hou.  In fact, Kaylee hou die muis vas dat hy op sy ruggie lê en dan voer sy hom.  Hy lyk nie of hy vreeslik omgee nie, want hy kruip nie eintlik weg as sy hom wil vang nie.  Wel - jammer om te sê - maar een van die vissies het reeds gesterf.  Kaylee het met trane in haar oë na my toe gekom om my mee te deel dag "tweedledum" weg is.  Dit het my so oomblik geneem - tot sy sê sy sien net vir "tweedledee".  Gelukkig het "tweedledum" toe in die grassies vasgehak so sy het dit nie eers gesien nie - en Mike het so stilweg die ou vissie in die toilet begrawe.  Kaylee het ook vir Mike gesê sy dink sy gaan sommer die grafie daar langs PietMuis se hokkie bêre sodat as hy doodgaan kan hulle hom gaan begrawe...  Tot Mike se ontsteltenis - want die laaste PietMuis wat ons gehad het het redelik lank gelewe - tot hy eendag tot 'n vreemde en skielike ondergang gekom het.  Ek was in Durban toe dit gebeur het, en Mike en Kaylee moes begrafnis hou.  Hulle het 'n kruis gebou met PietMuis se naam op - hulle het liedjies gesing, vir PietMuis in 'n boksie vol watte gesit en ter aarde gelaat.  Mike het blykbaar 'n traan of twee gepik, en Kaylee was te bly toe sy hoor die "wake" gaan in die Spur gehou word.  G'n wonder sy bêre al die graaf by die hokkie nie...

OK - ek het nou 'n vreeslike lang brief geskryf en kannie wag om van almal van julle te hoor nie!

Nuus uit SA - Hardus koop huis in Londen saam met 'n vriend, Debbie is swanger en ons bid almal vir haar dat dit sal goedgaan.  Ek glo absoluut dit sal.  Jenny hoor dalk more wat hulle verwag - dogtertjie of seuntjie - as die babatjie tog maar net mooi sal lê.

Baie liefde aan almal, met baie liefde van ons.

Die Rethmans.

PS - as julle nou ewe skielik hierdie briewe begin kry moet julle weet julle is op die lysie geplaas omdat ons julle amper nooit meer sien nie en hierdie die enigste manier is waarop julle sal weet dit gaan nog aan hier by ons.  Hieronder sluit ek spesifiek vir Carina Maritz en Deon van Tonder en Philip Jordaan en Schreuder Venter in!!  Hoop julle voel nou sleg.  :-)

No comments:

Post a Comment